Home Page Image
 


Biografie

Vir die meeste van ons het die geliefde Gospel sanger, Willie Joubert geen bekendstelling nodig nie. Met sy internasionale stemkwaliteit, uitsonderlike skryftalent, spontane verhoogpersoonlikheid en teologiese opleiding maak hy beslis 'n groot verskil oral waar hy sing en bedien.

Op die jong ouderdom van vyftien jaar het Willie sy hart vir die Here gegee, en na aanleiding van hierdie ingrypende lewensveranderende ervaring het hy besluit om sy lewe te wei aan die verkondiging van die evangelie deur middel van musiek. In sy vroee twintigs het hy alreeds die land aan die brand begin sing nadat hy bekend geword het met die immergroen treffer uit sy pen, "Die Nagmaalslied."

Willie het al verskeie toekennings ontvang vir sy talent, onder andere, ATKV Lier-, OKTV en CBSA toekennings. Hy is ook te siene op die spogproduksie, die Gospel Skouspel DVD 1 en 2 saam met
Juanita du Plessis, Feda Francis en vele meer.

Willie is sowat 20 jaar in 'n voltydse geestelike musiekbediening. Hy tree nie net regoor SA op nie, maar word ook gereeld genooi om in die buiteland op te tree.
Een van sy eie komposisie "There is a river", is opgeneem op 'n internasionale aanbiddings CD, Worship Around the World, wat regoor die wereld vrygestel is.

Willie se tuisdorp is 'n klein Vrystaatse dorpie, genaamd Parys en
aan sy sy, is sy pragtige vrou, Natasha, wat in 2007 gekroon is as Mev Verenigde Nasies SA en Mev Verenigde Nasies INTL. Natasha is self ook 'n sangeres en motiveringspreker en bedien veral vroue en tienermeisies. Sy het bekend geword in die kommersiële mark met haar debuutalbum, Mis Jou Soveel.

Saam vorm Willie en Natasha 'n kragtige span wat veral huwelikke regoor SA inspireer. Die bonus is natuurlik om hulle van tyd tot tyd saam te hoor sing, soos Willie Strauss van Rapport tereg sê, "hulle stemme gaan saam soos kettie-en-klip"
Die hartklop van Willie se musiek wentel rondom aanbidding en intimiteit met die Here, wat dien as 'n onmisbare hulpmiddel waarmee hy sy gehore bedien met 'n unieke boodksap van woord en sang.

"God van Wonders", die jongste album uit Willie se pen en uit sy binnekamer, spog weereens met musiek uit die boonste rakke. Die liedere op hierdie album val nie net lekker op die oor nie, maar luisteraars kan ook baie lekker saam sing en deel in die lof- en aanbiddingsbelewenis.

Willie se bedieningstyl vind aanklank by verskillende gemeentes en afhangende van die spesieke gemeente se voorkeur, bring Willie gewoonlik 'n gepaste boodskap met behulp van sy musiek wanneer hy bedien. Verder tree hy op as sanger, spreker en of seremoniemeester by onder andere manne- en vrouegeleenthede,fondsinsamelings, musiekfeeste en vele ander funksies.

Om Willie lewendig te sien optree en die passie te beleef waarmee hy bedien is beslis 'n onvergeetlike ervaring. Sy vertonings bestaan nie net uit sy musiek nie, maar word ook vergesel met treffende, illustratiewe beeldmateriaal wat ook daartoe bydrae dat die boodskap effektief oorgedra word aan oud en jonk.

Hy glo sterk dat hy nie geroep is vir vermaaklikheid nie, maar dat sy musiek juis die voertuig is om dit te doen wat hy die graagste wil doen, Jesus Christus te verkondig, aan alle mense met wie hy paaie kruis.