Tuisblad Biografie Musiek Videos Kontak Foto-album Pers
   


 


Vir die meeste van ons het bekende Gospelsanger, Willie Joubert geen bekendstelling nodig nie.

Met sy internasionale stemkwaliteit, uitsonderlike skryftalent en formele teologiese opleiding maak hy beslis ‘n groot verskil oral waar hy sing en bedien.

Willie is sowat 20 jaar in ‘n voltydse geestelike musiekbediening. Hy tree nie net regoor SA op nie, maar word ook gereeld genooi om in die buiteland op te tree.

Op die jong ouderdom van vyftien jaar het Willie sy hart vir die Here gegee, en na aanleiding van hierdie ingrypende lewensveranderende ervaring het hy besluit om sy lewe te wei aan die verkondiging van die evangelie deur middel van musiek.

Soos vroeër genoem is Willie baie talentvol, waarvoor hy al menige toekennings ontvang het, waar onder andere, ATKV Lier-, OKTV en CBSA toekennings.  Hy tree ook gereeld saam met ander kunstenaars soos Jan de Wet, Piet Smit en Danie Botha op en hulle het saam al vele projekte die lig laat sien. Hy is ook te siene op die spogproduksie, die Gospel Skouspel DVD saam met Juanita du Plessis, Feda Francis en vele meer.

Een van sy eie komposisie “There is a river”, is opgeneem op ‘n internasionale aanbiddings CD, Worship Around the World, wat vrygestel is in 32 lande regoor die wêreld.

Die hartklop van Willie se musiek wentel rondom aanbidding  en intimiteit met die Here, wat dien as ‘n onmisbare hulpmiddel om sy gehore te bedien met ‘n unieke boodksap van woord en sang.

Dis ‘n Nuwe Dag, die jongste album uit Willie se pen en uit sy binnekamer, spog weereens met musiek uit die boonste rakke. Die liedere op hierdie album val nie net lekker op die oor nie, maar luisteraars kan ook baie lekker saam sing en deel in die lof- en aanbiddingsbelewenis. Behalwe vir 14 oorspronklike snitte, bevat hierdie CD ‘n paar gunstelinge soos, You raise me up, Soos ‘n man van die Woord en die Nagmaalslied wat treffend vertolk word deur Willie se afgeronde manlike solostem.

Willie se tuisdorp is ‘n klein Vrystaatse dorpie, genaamd Parys en aan sy is sy pragtige vrou, Natasha, wat onlangs gekroon is as Mev Verenigde Nasies SA en Mev Verenigde Nasies INTL. Natasha is self ook ‘n sangeres en motiveringspreker en bedien veral vroue en tienermeisies. Sy het bekend geword in die kommersiële mark met haar debuutalbum, Mis Jou Soveel.

Saam vorm Willie en Natasha ‘n kragtige span wat veral huwelikke regoor SA inspireer. Die bonus is natuurlik om hulle van tyd tot tyd saam te hoor sing, soos Willie Strauss van Rapport tereg sê, “hulle stemme gaan saam soos kettie-en-klip.”

Willie se bedieningstyl vind aanklank by verskillende gemeentes en afhangende van die spesieke gemeente se voorkeur, bring Willie gewoonlik ‘n gepaste boodskap met behulp van sy musiek wanneer hy bedien. Verder tree hy op as sanger, spreker en of seremoniemeester by onder andere manne- en vrouegeleenthede,fondsinsamelings, musiekfeeste en vele ander funksies.

Die jaar 2008 hou baie nuwe en opwindende projekte vir Willie en Natasha in. Wees gerus op die uitkyk vir sy treffer DVD, wat binnekort op die rakke sal wees.

Om Willie lewendig te sien optree en die passie te beleef waarmee hy bedien is beslis ‘n onvergeetlike ervaring. Sy vertonings bestaan nie net uit sy musiek nie, maar word ook vergesel met treffende,  illustratiewe beeldmateriaal wat ook daartoe bydrae dat die boodkap effektief oorgedra word aan oud en jonk.

Hy glo sterk dat hy nie geroep is vir vermaaklikheid nie, maar dat sy musiek juis die voertuig is om dit te doen wat hy die graagste wil doen, Jesus Christus te verkondig, aan alle mense met wie hy paaie kruis.

Vir meer inligting oor Willie Joubert en sy musiekbediening, besoek gerus sy webtuiste by www.williejoubert.co.za.